John Steinbeck

John Steinbeck
John Steinbeck in 1962
Gebore
John Ernest Steinbeck, Jr.

(1902-02-27)27 Februarie 1902
Salinas, Kalifornië
Sterf20 Desember 1968 (op 66)
NasionaliteitVlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
BeroepRoman- en kortverhaalskrywer, oorlogsverslaggewer
EggenootCarol Henning (1930, geskei in 1943)
Gwyn Conger (1943, geskei in 1948)
Elaine Scott (1950)
KindersJohn Steinbeck IV (1946–1991)
Thomas Steinbeck (1944–2016)
Handtekening

John Ernst Steinbeck, Jr. ([ˈstaɪnbɛk], * 27 Februarie 1902; † 20 Desember 1968) was 'n Amerikaanse skrywer wie se werk in 1962 met die Nobelprys vir Letterkunde bekroon is "vir sy realistiese en verbeeldingryke skryfwerk waarin simpatieke humor en 'n skerpsinnige maatskaplike waarneming met mekaar verbind word".[1] Steinbeck word onder die vernaamste literêre persoonlikhede in die Verenigde State gereken, terwyl baie van sy romans as klassieke werke van die westerse literatuur beskou word.

Gedurende sy loopbaan as skrywer het 27 boeke uit sy pen gekom, insluitende 16 romans, ses nie-fiksie-werke en twee kortverhaalbundels. Die meeste van Steinbeck se werke speel in Sentraal-Kalifornië af, veral in die Salinas-vallei en die California Coast Ranges, 'n bergreeks langs die Stille Oseaankus. Dikwels staan onderwerpe soos die menslike lot en ongeregtigheid sentraal in sy romans, veral met betrekking tot verdrukte karakters en die gewone mens. Steinbeck het veral bekendheid verwerf met sy komiese romans Tortilla Flat (gepubliseer in 1935) en Cannery Row (1945), die epiese roman East of Eden (1952) wat oor etlike generasies strek, en die novelles Of Mice and Men (1937) en The Red Pony (1937).

Die realistiese roman The Grapes of Wrath (1939), waarvoor die Pulitzerprys vir Fiksie aan Steinbeck toegeken is, word as sy meesterwerk en deel van die kanon van Amerikaanse literatuur beskou wat die dramatiese vlug van 200 000 mense uit die Dust Bowl, die droogtegeteisterde landboustreke van die Amerikaanse Middeweste, langs die historiese U.S. Route 66 na Kalifornië beskryf. Binne 75 jaar ná sy publikasie is 14 miljoen eksemplare daarvan verkoop. The Grapes of Wrath is deur sekere regse Amerikaanse groepe getipeer as die propaganda van 'n Joodse skrywer. Steinbeck het daarop geantwoord dat hy terloops nie Joods is nie, maar dit betreur as 'n skrywer se oeuvre aan die hand van sy herkoms geregverdig moet word.[2]

  1. www.biography.com: John Steinbeck. Besoek op 21 Mei 2018
  2. Sorene, Paul (13 Mei 2021). "John Steinbeck's Wonderful Letter On Racism – 1937". flashbak.com. Flashbak. Besoek op 13 Augustus 2021.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy